Home » Boeke te kies en te keur op Afrikaanse trefferlyste

Boeke te kies en te keur op Afrikaanse trefferlyste

by ballyhooglobal.com
0 comment



Afrikaanse boeke het vanjaar goed gedoen in alle genres op trefferlyste met lesers wat hul stemme dik gemaak het en hul beursies oopgemaak het.

Topverkopers sluit van misdaad tot geestelike verhale vir fiksie in en resepteboeke en boeke oor die Grensoorlog in die nie-fiksie-afdeling in.

So het van die boeke gelyk wat op die topverkoperlyste volgens die Nielsens boekverkope-indeks gepryk het: (Dié indeks verwerk data rondom boeke wat in boekwinkels verkoop het).

Een van die beste verkopers in die nie-fiksie boeke-kategorie was Troep – die dinge wat hulle saamdra deur oud-redakteur van Die Burger en buitelugtydskrif Weg, Bun Booyens.

Die meesterlike bundelsamesteller met sy oor vir ’n goeie storie, het ’n bundel saamgestel uit verhale wat aan hom of vertel of aangegee is deur doodgewone troepe wat tydens die Grensoorlog in die Suid-Afrikaanse Weermag in verskeie hoedanighede gedien het.

Dit is stories wat saamgebundel is onder talle temas. Sommiges handel oor rylopery, naweekpasse, stof, “Buffels”, landmyne en skrapnel.

Een van die belangrikste aspekte van hierdie boek is dat dit ook die herinneringe oproep van vriende en gesinne oor seuns en broers wat nie huis toe gekom het na die oorlog nie.

As skrywer en joernalis teken Booyens ’n roerende prentjie wanneer hy oor sy eie ervarings skryf. Dis egter die fyn uitsoek van verhale om ’n balans van nostalgie en melankolie saam te weef, waarin die krag van die bundel lê.

Ek was vasgenael met die navorsing, die feite en ook die verstommende verhale wat in die saamgestelde bundel na vore kom.

Soms, omdat jy ’n tydsgewrig met mense gedeel het, verbeel jy jou jy weet dalk so breedweg wat die tydsgees en gebeure was, maar die bundel het my blik op die verlede en hierdie tyd ook in my lewe wat rakelings geraak is hierdeur, ’n heel nuwe perspektief gegee.

Soos net ’n keurige samesteller kan doen, is daar ’n goeie balans van lig en donker, goed en kwaad maar veral ook van humor en patos.

Ek het lank laas ’n bundel gelees wat soveel verskillende gevoelens, herinneringe en oordenkings by my opgewek het. Die boek is uitgegee deur Penguin Random House, is in September vanjaar gepubliseer en kan tussen R280 en R330 gekoop word.

Min mense kan ’n storie so oopskryf soos Chanette Paul. In haar nuutste boek Anoniem is Paul weer op haar beste. Die Overberg-roman met sy blik op talle temas soos uitgewers en skrywers en die verhouding tussen hulle, gemeenskappe se werkinge en die geheime van die verlede en die hede asook ’n stewige storieknoop oor ’n moord al dan nie, laat jou die blaaie vinnig omblaai.

Dit is die soeke-na-identiteitsverhaal van Lula Prins wat Paul oor 400 bladsye vertel. Prins is ’n manuskripontwikkelaar in die verhaal en blameer haarself dat ’n slegte keurdersverslag van haar aan ’n skrywer moontlik sy lewe só beïnvloed het, dat hy sy lewe geneem het, of dalk vermoor is.

Sy besoek Kaapstad vanaf haar wegkruipdorpie, Heydendal, vir die debuutskrywer Dian Kruger se herdenkingsdiens en word ingetrek in die intriges rondom sy lewe en afsterwe. Prins is ook nie self so onskuldig as sy voorgee nie en het ’n paar geheime van haar eie.

Paul se sterkste punt in hierdie boek is haar karaktergedrewe storieknoop waartydens onvergeetlike karakters soos Kruger se tante, Lilibet, haar hoofkarakter se pad kruis.

Veral diegene wat die Overberg en sy klein dorpies goed ken, sal ook aansluiting vind by Paul se beeldende pen oor die omgewing, kos en kruie.

Met hierdie roman, haar 50ste een, is dit ’n trefseker skrywer aan die woord wat met haar boekebedryfvernuf (sy is self ’n knap en gewilde manuskripontwikkelaar) ook oor die kuns van skryf deurlopend kommentaar lewer.

Dis dus ’n boek vir skrywers en lesers oor die kuns van skryf. ’n Ideale geskenk vir iemand wat jy weet dalk ’n manuskrip op ’n skootrekenaar iewers gebêre hou.

Anoniem is deur Lapa uitgegee in April vanjaar. Dis aanlyn en in boekwinkels teen tussen R300 en R340 beskikbaar. In die resepteboek-trefferleer is die uitstaande boek vanjaar Skepselkos deur die internasionaal bekroonde skrywers, Isabella Niehaus en Louis Jansen van Vuuren.

Hul vorige boek, Daar is ’n vegan op my verandah, is bekroon as die beste vegan kookboek in die wêreld. Hul nuwe boek, Skepselkos, het ook weggestap met die topverkopertoekenning vanjaar by die Woordfees in die leefstylafdeling en is reeds as ’n finalis benoem vir die intrnasionaal-bekende prestige Gourmand-prys.

Gee aandag aan wat jy eet en hoe jy in die hede lewe – dit is die uitgangspunt in die twee meelewende kokke se aanslag in hierdie tweede boek met sy sonderlinge omslag.

Hierdie boek verskil van die vorige deurdat hulle ook ander sjefs en koskundiges gevra het om hul kosstories en resepte te deel sowel as hoe om ’n plantgebaseerde leefstyl te volg.

Daar is dus so tien resepte per hoofstuk, ’n kombinasie van vriende se koskuns en Niehaus en Jansen van Vuuren se vernuf.
Die boek opsigself is met sy keurige foto’s en stilering ’n kunswerk op sy eie.

Niehaus het aan Rekord gesê dat die omslag van die boek, soos met die vorige, weer ’n skildery uit haar mede-skrywer, bekende skilder en digter, Louis Jansen van Vuuren, se kwas is.

“Dit was so voor die handliggend om weer ’n kunswerk op die omslag te sit. Dit plaas die boek in ’n ander klas en maak daarvan iets besonders. Die meeste van die tyd is daar kos op die voorblad van kookboeke. Daar is ook simboliek aan die kraai byvoorbeeld as ’n simbool van verandering. Beide ek en Louis se woonplekke het sedert die eerste boek verander en die voorblad dui ook daarop dat hierdie boek van die vorige een verskil. Purper is en bly vir my ’n uitsonderlike kleur,” verduidelik Niehaus.

Wat Skepselkos (Engelse titel: Earthling Food) anders as gewone boeke oor plantebaseerde kos maak, is dat dit toeganklik is vir diegene wat ook bloot sorgsame eters is met die blou planeet in gedagte, maar nog nie volkome toegewy aan die dissipline van die leefstyl is nie.

Niehaus, wat ook bekend is vir die langtafel-etes wat sy eens by haar duinhuis aan die Weskus aangebied het, woon nou in die Swartlanddorp, Riebeek-Kasteel en is nog meer as vantevore ingestel om uit haar ruim tuin van olyfbome en tamatiebeddings te kook en groener en gesonder te lewe.

Sien jy tydens ’n bekendstelling (natuurlik aan ’n langtafel kreunend met keurkos) hoe die twee skrywerkokke so terloops tydens die gesprek rondom die boek ondeund oogkontak maak, weet jy ook dis wel veel meer as net ’n kookboek wat nou weer op die rakke is.

Dis ’n bon appetit vir vriendskap. Die smaaklike spyse van die lewe. Skepselkos is deur Naledi uitgegee, is teen R575 beskikbaar van bellaniehaus24@gmail.com, maar ook in boekwinkels.

Nog sewe boeke op die Afrikaanse 2024-trefferlyste wat sterk aan te bevele is:
Jeugboek: Chakalaka uit ’n blikkie – Sandy Schoeman
Geestelike fiksie: Toevlug deur Louise Viljoen
Nie-fiksie: Blou Bloed: Koninklike spore in Suid-Afrika deur Daniël Lotter
Selfhelpboeke: Die geskenk: Liefde, selfdood en dieper leef deur Riette Rust
Outobiografie: Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus
Riller: Swyg deur Erla Diedericks
Romanse: Die Sutherlandbroers – vyf enkeltitels met die titels Edward, Alan, Finlay, Quinn en Doug.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.





Source link

Related Articles

Leave a Comment

Adblock Detected

Please support us by disabling your AdBlocker extension from your browsers for our website.